Pienkvoet-Pret Mommylympics Mammalympics
Pienkvoet-Pret Babylympics Babalympics
In die gees van die opkomende Olimpiese Spele sal ons sosiale media tema vir Julie SPEEL wees.
Die Olimpiese Spele vind plaas 26Julie -11Augustus.
Ek het ook gedink dit sal oulik wees om in julle klasse vir 4 weke lank (vanaf 15Julie tot 9 Augustus) ‘n lekker vinnige speletjie te speel met die ma’s en babas. Dit word dan hul Mommylympics en Babylimpics genoem. Dit kan as ‘n ysbreker gedoen word voor die klas begin, of as ‘n aktiwiteit gedurende die les (en dan word ‘n ander aktiwiteit net daarmee vervang)
Onthou om vir die ma’s te sê hierdie is regtig net in die gees van die Olimpiese Spele en dat ons juis nooit kompetisie tussen ons ma’s of babas wil hê nie.
Druk die medaljes op karton, knip uit en plak op ‘n lint. Gee vir die wenners.
Onthou dis nie verpligtend nie. Dit sal wel baie goeie bemarking wees en gebruik gerus hierdie # as jul post:
#Paris2024
#OlympicDay
#RoadToParis2024
#LetsMove
#Paralympics
#OlympicGames
#Olympics
#ParisOlympics
Hier is ‘n paar idees om te doen, maar julle is baie welkom om ook jul eie idees te gebruik. Speel gerus van die Olympiese spele “anthems”of liedjies soos “We are the champions”, “Simply the best”, “Chariots of fire” ens elke keer as jul dit doen.
Week 1
Mamma uitdaging:
Laat mammas met hul rûe teen die muur staan, bene 90grade gebuig met baba in hul arms. As mamma beweeg (of baba laat haar nie toe om verder so te staan nie, is sy uit.)Die ma wat die langste so kan staan is die wenner.
7-12maande &
13-21maande klas:
Plak so 5 groot plakkers op baba se bene, bo op sy klere. Hou hardop telling (so 15 tellings) en kyk wie die meeste kon aftrek in hierdie tyd.
22-36 maande klas:
Gee vir elke baba so 10 plakkers en ‘n vel papier. Wys hulle dat hulle baie vinnig die plakkers moet aftrek en op die vel papier moet plak. Hou hardop telling (so 15 tellings) en kyk wie die meeste kon plak in hierdie tyd. Laat hul nou rustig die res van die plakkers plak as ‘n aktiwiteit.
Week 2
Mamma uitdaging:
Gee vir elke ma ‘n mediumgrootte bal wat hul in die lug op en af moet bons met een hand (die ander hand op hul heup) As hul die bal vashou of laat val is hul uit.
7-12maande,
13-21maande & 22-36maande klas:
Gee vir elkeen ‘n 5 liter roomysbak met ‘n klomp verskillende voorwerpe in. Mamma moet die bak styf in die middel voor hul vashou en hulle moet die voorwerpe uithaal. Hou hardop telling (so 15 tellings) en kyk wie die meeste kon uithaal in hierdie tyd.
Week 3
Mamma en baba uitdaging:
7-12 mnde & 13-21mnde klas:
Laat die ma’s vanaf ‘n reguit lyn met hul babas in hul arms spring. Kyk wie spring die verste!
22-36mnde klas:
Kruiwa stoot: Laat ma’s gelyk begin (of deel in groepe) en kyk wie die verste kan vorder in 10 tellings (jy tel hardop)
Week 4
Mamma en baba uitdaging:
7-12 mnde & 13-21mnde klas:
Gee vir elke ma en baba een boontjiesakkie. Laat die ma’s op ‘n reguit lyn saam met hul babas staan. Mamma help baba om die boontjiesakkie te gooi. Die een wat die verste gooi is die wenner.
22-36mnde klas:
Gee vir elkeen sy eie boontjiesakkie. Laat die ma’s help dat die babas almal op ‘n reguit lyn staan. Tel tot by 3 en laat babas self die boontjiesakkie gooi. Die een wat die verste gooi is die wenner.
Mamma uitdaging:
Ma’s gooi buite die boontjiesakkies. Die een wat die verste gooi is die wenner.
Nog Idees
3-6mnde klas:
Doen ‘n Pensie-Pret aktiwiteit- Sit babas in ‘n kring naby mekaar op hul magies. Slaan met lepels teen mekaar, op ‘n blik en op die mat en kyk wie sy kop die langste opgelig kan hou.
7-12mnde klas:
Ma’s help- hul sit die babas in die kruipposisie in ‘n lang ry aan die eenkant van die vertrek. Ma’s hou hul vas. Jy gaan lê op jou maag aan die ander kant van die vertrek, tel tot by 3 en dan moet die ma’s hul los. Skud ‘n instrument en roep hul nader en kyk wie eerste by jou is of die verste gevorder het in 15 tellings.
13-21mnde en 22-36mnde klas:
Gee vir elk ‘n 5 liter roomysbak. Mamma hou die roomysbak vas en sit so ver as moontlik terug teen die muur. Jy wys nou jy gaan in die middel van die klas ‘n groot klomp plastiese klein balle (of tafeltennisballe/blokkies/uitgooi. Hulle moet dit kom optel en vinnig na mamma toe hardloop en dit in die houers gaan gooi. Hou hardop telling (so 20 tellings) en kyk wie die meeste kon ingooi in hierdie tyd. Laat hul nou rustig die res van die voorwerpe optel en bere as ‘n aktiwiteit.
Mamma uitdaging:
Gee vir elk ‘n paar klein stukkies gesnyde papier op ‘n skinkbord asook ‘n ander houertjie soos ‘n emmertjie asook ‘n strooitjie. Hul moet nou met die strooitjie die papier “opsuig”en in die emmertjie gooi. Hul kan dit gelyk of 2-2 saam doen. Gee so 30 sekondes. Die een met die meeste papiertjies in die emmer is die wenner.