Wanneer jou 1-jaar oue kind skree vir ‘n lekkerny of kos rondgooi is dit baie moeilik om te weet HOE mens dit moet hanteer.  Dit kan mos nognie nodig wees om ‘n 1-jarige al te moet dissiplineer nie, of kan dit???  Terwyl taktieke soos “time out” of die wegneem van voorregte nog geensins vir die ouderdomsgroep sal werk nie (omdat hulle nognie oorsaak en gevolg verstaan nie), is hierdie ‘n baie goeie tyd om jou baba te leer van reg en verkeerd.  Die oorspronklike betekenis van die woord “dissipline” is om te LEER.  Ons is geneig om te dink dat dissipline en straf altyd hand aan hand gaan, maar dit is nie noodwendig waar nie.

Dissipline en straf is ‘n moeilike konsep en die toepassing daarvan sal van persoon tot persoon verskil.  Jou gesinsdinamiek, geloof, jou kind (en jou) temperament en nog vele ander faktore bepaal hoe jy jou kind sal dissiplineer of straf en watse maniere sinvol vir julle sal wees. 

Wat belangrik is om te weet is dat jou kind uniek is en dat dissipline (en straf daarmee saam) se doel veel groter is as om net jou kind se gedrag te verander. 

Hier is ‘n paar redes waarom ons ons kinders moet dissiplineer:

  • Dissipline help om angstigheid te verminder:
    • Glo dit of nie, maar kinders wil nie in beheer wees nie.  Hulle toets gereeld die perke omdat hul wil seker maak dat hul ouers/ opvoeders hul kan veilig hou.
    • As ouers/ opvoeders positiewe en negatiewe gevolge van kinders se dade aan hul verduidelik van ‘n jong ouderdom af, leer en groei kinders in die proses.
  • Dissipline help kinders om goeie besluite te kan neem
    • Gesonde dissipline help kinders om alternatiewe maniere te vind om ‘n probleem op te los, om hul impulse te beheer en hulself te kan reguleer.
  • Dissipline help kinders om hul emosies beter te verstaan en te beheer.
    • Ons moet nooit ons kinders se emosies misken nie, maar ons moet hul aanvaarbare maniere leer om van hul emosies ontslae te raak.  Op die ouderdom moet ons nog ons kinders se emosies vir hul verwoord ook.  “Mamma kan sien jy is kwaad omdat jy nie die lekkerny kan kry nie.  Wanneer ons kwaad is mag ons nie byt nie”.
  • Dissipline hou kinders veilig.
    • Die belangrikste doel van dissipline is om kinders veilig te hou.

Die moontlike redes waarom my baba/peuter onaanvaarbare gedrag openbaar:

Dit is belangrik om te weet dat onaanvaarbare gedrag meestal die manier is wat jou baba kommunikeer dat daar ‘n behoefte is wat NIE aan voldoen word nie.  Die gedrag is gewoonlik net ‘n simptoom en nie noodwendig die probleem nie.  Ons moet altyd onthou dat wanneer kinders hul samewerking KAN gee, hul gewoonlik geneig is om dit te doen en nie onaanvaarbare gedrag openbaar om ons te straf of ons “knoppies” te druk nie (al voel dit soms so).   Hier is ‘n paar moontlike redes vir jou baba se onaanvaarbare gedrag:

  • Jou kind is honger:  Wanneer kinders (soos volwassenes) honger is kan hul geirriteerd raak asgevolg van lae bloedsuiker.
  • Jou kind is moeg.
  • Jou kind is bekommerd oor iets:  Enige verandering in jul normale roetiene (verhuis/ nuwe baba/ nuwe skool ensovoorts) kan lei tot ongewensde gedrag.  Hierdie is jou kleinding se manier om ‘n mate van kontrole oor sy/ haar eie lewe te verkry.  Probeer om te verstaan wat die probleem moontlik mag wees en gesels met jou kleinding hieroor.  Kindertjies het die grootste behoefte aan liefde en geborgenheid.
  • Hulle is beinvloed deur iets of iemand:  Wanneer jou kind blootgestel word aan iemand anders wat ongewensde gedrag toon, mag hul dalk ook daardie gedrag aanleer.
  • Jou kind doen wat jy doen:  Hierdie is nie ‘n lekker een nie, maar as jy kort van draad is, geneig is om te skree en te raas sal jou kleinding baie keer die gedrag herhaal (“mirror”).  Wanneer ons kan herken dat ons dalk self die probleem is en ons eie gedrag verander – sal ons kinders ook hul gedrag verander.
  • Jou kind het aandag nodig:  Jou kleinding probeer om jou onverdeelde aandag te bekom (om watse rede ookal).  Probeer om bietjie kwaliteit, gefokusde tyd saam met jou kleinding deur te bring.  Kyk hom in die oe as jy met hom praat, gaan af tot op sy vlak.  Speel saam met hom sonder enige afleidings.
  • Jou kind sukkel om homself besig te hou en raak verveeld:  Hierdie is ‘n baie belangrike vaardigheid om van kleins af vir jou kind aan te leer.  Help jou kleinding om self te kan speel.  Gee vir hom items waarmee hy (veilig) kan eksprimenteer (soos bokse, blokke, bakkies met deksels, lepeltjies ensovoorts).  Kinders wat hulself by tye kan besig hou kom met kreatiewe idees vorendag en is gemaklik in hul eie “geselskap”.

Hier is ‘n paar maniere wat jy kan gebruik of probeer wanneer jou 1-jarige onaanvaarbare gedrag openbaar:

  • AFLEIDING
    • Probeer sover moontlik om nie op jou kind te skree wanneer hy iets verkeerd doen nie.  Jou stemtoon gaan hom heel waarskynlik ontstel of meer nuuskierig maak.  Probeer eerder om jou kleinding vinnig te intreseer in ‘n ander aktiwiteit.
    • As jou kind byvoorbeeld op die bank staan, tel hom af en sit hom op die vloer neer en lees ‘n boekie of gee vir hom iets anders om mee te speel. (Ek sou ook net terloops bygevoeg het dat ons nie op banke mag staan nie).
    • Om jou kind se aandag op iets anders te vestig kan ongewensde gedrag vinnig in die kiem smoor en na gelang van tyd sal hy besef dat om op meubels te klim nie aanvaarbaar is nie. 
  • WEES KONSEKWENT
    • Dit is baie belangrik om perke daar te stel en te alle tye dieselfde te reageer wanneer jou kind onaanvaarbare gedrag openbaar.
    • “Pick your battles”.  Moenie oor alles kla nie en maak seker dat wanneer jy jou kind dissiplineer dit werklik nodig is.  Besluit vooraf wat vir julle onaanvaarbaar is.  Wanneer ‘n kind iets doen wat gevaarlik is moet dit altyd dadelik aangespreek word.
    • Moet ook nie jou kindjie onnodiglik dreig nie en wanneer jy “dreig” moet jy die dreigement uitvoer.  Ons is geneig om goed te se soos:  “As jy weer jou boetie byt gaan Mamma peper in jou mond gooi” maar ons doen dit nooit nie.
    • ‘n Pappa en Mamma moet ook op dieselfde bladsy wees wanneer dit kom by dinge wat aanvaarbaar is of nie.  As Pappa byvoorbeeld toelaat dat jul kind water spat in die bad maar Mamma nie, sal dit jou kind deurmekaar, onseker en gefrustreerd maak.
  • BLY POSITIEF
    • As jy die heeltyd vir jou kind “nee” se, sal hy dit begin ignoreer of erger- self vir alles begin NEE se.
    • Probeer om NEE vir gevaarlike sitsuasies te hou.  Soos as jou kind aan die oond wil vat – jy moet dan dadelik NEE se.
    • Maar wanneer iets nie gevaarlik is nie, soos wanneer jou kind sy skoene in die winter in die kar wil uittrek se eerder iets soos “Mamma sal jou help om jou skoene uit te trek sodra ons by die huis kom, anders gaan jou voetjies koud kry”.  En dan moet jy sy skoene uittrek sodra jul by die huis kom.
  • DEMONSTREER DIE KORREKTE GEDRAG
    • Kinders leer baie meer deur wat hul sien as wat hul hoor. 
    • Wanneer jou kleinding die hond se stert trek, tel die hondjie op en se “kom ons gee eerder vir Snippie drukkies”.  En laat jou kleinding saam met jou vir Snippie ‘n drukkie gee.
    • As jy byvoorbeeld sukkel om jou kind se tande te borsel, gaan haal jou tandeborsel en borsel jou tande ook.  Wys vir hom hoe dit gedoen moet word en maak dit dan sommer deel van jul roetiene voor slaaptyd.
  • PRYS GOEIE GEDRAG
    • Kinders in die ouderdomsgroep reageer gewoonlik met onaanvaarbare gedrag omdat hul gefrustreerd is en hul nog nie in staat is om te kommunikeer hoe hul voel of wat hul wil he nie.  Hulle weet ‘n “tantrum” gaan beslis iemand se aandag trek.
    • Gee dus eerder baie aandag wanneer jou kleiding iets positiefs doen, prys hulle en se vir hulle dat jy trots is.  Op die manier besef hul dat hul nie op negatiewe maniere aandag hoef te soek nie.
    • Vir die ouderdom is aandag aandag – hetsy positief of negatief.  Daarom dat mens so min moontlik tyd en energie aan onaanvaarbare of negatiewe gedrag moet gee.  Hulle moet leer dat hul nie met aandag “beloon” gaan word as hul verkeerde dinge doen nie.

Net so ter afsluiting.  ‘n Kind wat besig is om ‘n “tantrum” te gooi is irrasioneel en kan op daardie stadium nie na enige “rede” luister nie.  Maak seker dat hy op ‘n veilige plek is en homself nie kan beseer nie en los hom vir so rukkie om te kyk of hy homself kan uitwoed.  Moenie probeer dissiplineer of straf terwyl jou kind in hierdie “staat” is nie.  Indien jou kind sukkel om rustig te raak en jou toelaat, kan jy hom vashou en diepdruk toepas – soms het hy net nodig dat jy fisies sy lyfie (wat heeltemal uit beheer uit voel) fisies terug te “druk” met ‘n groot, lang en stywe drukkie.  Jy sal voel hoe hul lyfies ontspan en hul hartklop weer rustiger raak. 

Soos vroeër ook genoem is dit belangrik om seker te maak dat jou manier van dissipline by julle omstandighede, jou kind se persoonlikheid en jou waardesisteem aanpas. Daar is nie 2 kinders wat dieselfde reageer nie en daarom sal jy aanpasbaar moet wees wanneer dit kom by dissiplinering en straf.  Maa kook seker dat albei ouers op dieselfde bladsy is rakende dissipline en straf (dis ‘n baie belangrike gesprek om te hê).

Ek hoop dat die bogenoemde so bietjie sal help in hierdie “reis” van MA-wees, MOEG-wees, ALLES-in-een-wees.

Rhona