Elke mamma hunker na ’n aand se rustigheid sonder die bekommernis dat hul kleinding dalk in die nag wakker sal word. Die gevoel van onsekerheid laat haar vrae vra soos: Gaan ons weer vannag sleg slaap? Hoe moet ek dit hanteer? Doen ek iets verkeerd? Gaan ons net deur ’n stadium en gaan dit regkom?

Daar is soveel vrae en antwoorde op die internet rakende slaapgewoontes en hoe ’n mamma daardeur moet kom. Hoe enigiemand van al daardie antwoorde sin moet maak, is sowaar ’n raaisel!

Die een sê laat jou baba in jou arms aan die slaap raak, terwyl ’n ander een meen jy gaan dit nie kan volhou nie! Jy mag jou baba aan die slaap borsvoed, dit is normaal, beveel ’n “kenner” aan, en ’n ander “ekspert” sê nee, dit gaan ’n slegte gewoonte word. Jou tannie stel voor: “Gee vir die kind ’n dummy”, jou ouma sê: “Nee, ’n dummy gaan ’n probleem word.”

Elke ouer het ’n eie opinie van kinders grootmaak, en elke kind en mamma is anders en uniek. Daar bestaan nie iets soos een plan wat vir elkeen werk nie. Daarom het ons kursusse voltooi en báie boeke gelees om te probeer vasstel wat al die opsies is en waar al die raad vandaan kom. Ons verstaan nou hoekom sommige kinders beter slapers is as ander, en hoekom sommige kleintjies net nie deur die nag kan slaap nie!

Ek (Zanda) onthou die tyd toe ek Pienkvoet Pret-klassies bygewoon het met my jongste seuntjie. (Terloops, ek kan dit hoogs aanbeveel.) Die outjie was die moeilikste kleintjie van almal daar en ek het vreeslik gesukkel met sy slaappatrone. Ek kon net nie ’n lekker roetine en ritme in ons dag kry nie. Tydens elke klassie het ek met die mammas daar gepraat en altyd gehoor hoe hulle kinders slaap. As hulle sê hulle het sê maar net twee keer in die nag opgestaan, was ek baie verbaas, veral wanneer ek partykeer nie eers kon onthou hoeveel keer ek die vorige nag moes opstaan nie. Ek was raadop en het besef ek moet iets doen!

Elke mamma wil die beste vir haar kind hê, en elkeen het ’n unieke aanslag. Dit is vir Brave Little Baby ’n voorreg om saam met elke gesin ’n plan te beraam vir hulle kleinding en hulleself. Let wel: Ons neem geen besluite sonder die ouers nie. Hulle is uiteindelik verantwoordelik om die plan in werking te stel.

Hoeveel slaap het my kind nodig?

In die eerste paar maande van ’n baba se lewe wissel die totale hoeveelheid ure slaap. Teen 3 of 4 maande sal die meeste kinders 13 tot 16 ure slaap in ’n periode van 24 uur nodig hê. Dit bestaan uit 11 tot 12 ure per nag, insluitend voedings, en 2 tot 4 ure deur die dag.

Nou wat gebeur as my kind nie genoeg slaap nie?

Daar is ’n duidelike uitwerking op die emosionele, fisiese en kognitiewe groei van ’n kind wat te min slaap, en ons glo elke mamma ervaar ook die volgende: 

  1. Moegheid
  2. Emosioneel wees en huilerigheid
  3. Krapperigheid
  4. Impulsiwiteit
  5. Konsentrasieprobleme
  6. Minder onafhanklik
  7. Aandagafleibaar
  8. Wil nie regtig speel nie

Waarom is slaap so belangrik en dat ons babas genoeg daarvan kry?

Wanneer kinders genoeg slaap, kan hulle suksesvol groei, ontwikkel en funksioneer. Hulle ervaar die omgewing as minder intimiderend en neem meer in. Hulle geheue verbeter, asook hul kapasiteit om op nuwe stimulasie te reageer en dit in te neem. Dagslapies help ook dat kinders herstel van emosionele invloede wat gedurende die dag opbou. Slaap verbeter immuniteit, en as jou kind goed slaap, slaap jý ook beter! Ons glo dit is baie belangrik vir mammas om in ouerskap te floreer, en daarvoor het ’n mens slaap nodig!

Nuwe netwerke word in ons brein vasgelê wanneer ons slaap, en ou breinselle wat nie meer gebruik word nie, word vernietig. Slaap is ’n moet sodat die brein kan vorm, weer herstel en sommer net gesond bly. Al die wonderlike ervarings van die dag word vasgelê as ons slaap en skuif van ons korttermyngeheue na die langtermyngeheue.

Daarom is dit uiters belangrik vir ons kleingoed om ’n goeie dag- én nagrus in te kry!

Noudat ons weet hoe belangrik slaap vir ons is, hoe kry ek my baba om saam te werk?

Ek wens ons het ’n towerstaf gehad wat babas in goeie slapers verander, maar ongelukkig is dit harde werk om goeie slaapgewoontes vas te lê. Dit vat tyd en aandag en ook ’n besluit om ’n liefdevolle grens rakende slaap te stel. Alle kinders is anders, en advies vir elke kind en mamma sal verskil omdat ’n mens die volgende in ag moet neem: jou baba se temperament, jou, die mamma, se ouerskapstyl, en wat vir jou reg voel. 

Eerstens is die slaapomgewing baie belangrik. Volg die link om ons gratis wenke te ontvang: 

Stuur my gratis wenke

’n Paar wenke wat mammas eers kan probeer

Vir ouderdom 6-16 weke kan jy probeer om jou kindjie elke dag net met een dagslapie of slaaptyd neer te sit en te kyk of die mensie nie dalk self sal slaap nie. As dit nie gebeur nie, probeer dan weer ’n ander keer. Kyk na tekens van moegheid en die toepaslike tyd waarop ’n  kind van daardie ouderdom wakker moet wees. 

As jou baba dalk gereeld op een manier aan die slaap raak, byvoorbeeld dalk ná ’n bottel, kan ’n mamma ook so af en toe probeer om die kleintjie aan die slaap in die bed te sit, hom dan net so ’n bietjie wakker te maak en vir hom sê: “Jy is nou in jou bedjie.” Laat dan die baba toe om weer self aan die slaap te raak. Dié metode help baie sodat ons nie ons kinders mislei of, soos ek altyd grap, daardie prentjie in hulle kop het van hoe die mamma uit die kamer uitsluip nie. Ons moet dit vermy!

Ons kinders moet weet waar hulle aan die slaap raak sodat hulle weet waar hulle is as hulle wakker word, en dan weer verder kan slaap. Daar is baie meer metodes, maar ons moet dieper daarna kyk voor ons dit kan voorstel. 

Vanaf 4 maande kan kinders al self aan die slaap raak; hulle het die nodige vaardighede. Ons moet net die regte tydsberekening hê met die regte omgewing, ’n vol magie en geduld. Hierdie oomblikke moet ons skep met die regte roetine vir die kind se ouderdom. Ons wil die kind “vang” wanneer dit sy of haar beste slaap-oomblik is: wanneer die liggaam vir die kleintjie sê dit is nou slaaptyd. 

Dan moet die kinders in die bed gesit word wanneer hulle wakker genoeg is om te weet waar hulle is en hulle dan toelaat om self aan die slaap te raak. 

Dit is ook waar dinge dan kan moeilik raak, want hulle kan dalk huil of net nie weet hoe om dit te doen nie. Klein kindertjies moet dit oefen, en dit is waar die harde werk inkom. 

Peuters en kleuters is ’n bietjie van ’n ander storie as dit kom by slaap. Daar is ook baie faktore wat in ag geneem moet word. Die grootste stryd wat na vore kom, is die tipiese meltdowns of tantrums. Omdat hulle al weet wat aangaan en liewer langer wil speel, kan hulle langer uithou en aanhou. Dit is waar dissipline ’n rol begin speel en wanneer ons self ook die dissipline moet hê om by ons liefdevolle grens te hou.

Ons hoop dié wenke sal ’n bietjie help om die angs uit slaap te haal en om dit in ’n rustige en lekker ervaring te omskep.

Daar is oplossings, maak dit ’n prioriteit.

Gesels verder saam op Instagram en Facebook. Jy kan ons daar vind as Brave Little Baby.  Vir enige mammas wat sukkel met slaapprobleme insluitend vroeë oggende, kort dagslapies, babas wat baie wakker word in die aand, of roetines, kontak ons gerus vir ’n gratis ontdekkingsoproep van 15 minute. Ons is net ’n e-pos ver.

Volg Brave Little Baby op Instagram

Volg Brave Little Baby op Facebook