Tandekry is wraggies nie vir sissies nie! Dit kan vir die baba/ peuter wat tande sny sowel as die ouers ewe uitdagend wees.
Daar is 5 stadiums van tandekry wat met 20 primêre babatandjies begin. Babas begin gewoonlik hul eerste tandjies rondom 6 maande sny, hoewel die presiese tydsberekening vir elke individuele kind kan verskil.
By die meeste kinders breek die onderste voorste twee tande eerste uit, gevolg deur die boonste voorste twee. Babas kan besonder kieskeurig of prikkelbaar raak terwyl hul nuwe tande ‘inkom’, aangesien tandekry ‘n baie ongemaklike proses kan wees.
Vanaf die eerste tandjie wat sny totdat ‘n kind hul volle stel van 20 melktande ontwikkel het, kan dit vir ons as ouers voel asof ons toenemend meer probleme met ons kindertjies ervaar.
Die normale tekens en simptome van tandekry bestaan uit seer of teer tandvleis, kwyl, kou aan harde voorwerpe en onkenmerklike “mislikheid”.
Baie ouers glo dat tandekry ook koors en diarree kan veroorsaak, maar navorsing bewys die teendeel. Slegs ‘n paar van die bronne wat ons geraadpleeg het verwys daarna dat tandesny die liggaamstemperatuur wel effe kan opstoot (niks hoër as 38˚C nie). Tandekry veroorsaak dus geen ander langdurige liggaamlike simptome buiten irritasie, en seer tandvleise nie.
Tandekry vind plaas in 5 fases, duur gewoonlik ‘n bietjie langer as 2 jaar, en kan ‘n onaangename tyd wees vir beide babas en hul ouers.
Om te weet wat om te verwag gedurende hierdie moeilike tyd, kan ouers help om die ongemak van hul baba te verlig, asook om hulle effektief na kleuterjare te lei.
Fase 1: (0-6 maande) Met geboorte het ‘n baba reeds ‘n volle stel van 20 melktande wat in die kakebeen onder die tandvleis geleë is. Hierdie primêre tande staan ook bekend as ‘melktande’. Gedurende hierdie stadium kom daar gewoonlik geen tande uit nie.
Fase 2: (6-8 maande) Die eerste tande begin te sny. Die onderste en boonste voortande begin sny op ongeveer 6 maande oud, maar simptome of tekens van ongemak kan reeds voor 6 maande sigbaar wees. Voordat tande sigbaar is druk die tande op die tandvleislyn wat ongemak kan veroorsaak. Baba sal gevolglik aan hande, speelgoed en enige ander harde voorwerpe kou omdat drukking op die tandvleis pyn verlig. Ouers moet beslis hul kind van genoegsame en gepaste kou-items voorsien gedurende hierdie tyd.
Fase 3: (10-14 maande) Die primêre kiestande begin op hierdie stadium in die onder- en boonste kakebeen in die agterkant van die mond uitkom. ‘n Kind se simptome tydens hierdie stadium sal soortgelyk wees aan fase 2, maar gewoonlik sal ouers ‘n duidelike toename in woeligheid, kwyl en die wil om aan harde voorwerpe te kou, waarneem. In hierdie fase is baba’s geneig om ‘n afname in eetlus te he en dit is algemeen dat ‘n baba se slaapskedule meer onreëlmatig word. Dit is ongelukkig baie kenmerkend vir die baba (en ouers) om snags heelwat minder te slaap tydens hierdie fase. Dit is sinvol om ‘n pynstiller te kry wanneer jou baba baie ongemak ervaar. Meeste apteke het fantastiese tande mengsels.
Fase 4: (16-22 maande) Teen die tyd sal die tande tussen die boonste en onderste kiestande en snytande, die hoektande, uitkom. Die ongemak bly maar by tye groot.
Fase 5: (25-33 maande) En net as jy dink die ergste is verby breek die ongemaklikste stadium van tandekry (vir meeste) aan. Die groot kiestande, wat die grootste melktande is, kom tydens hierdie stadium uit. Gedurende hierdie tyd kan ouers dit moeilik vind om hul kindjie gemaklik te laat voel en hul gewone tegnieke mag tevergeefs wees. Ouers word aangemoedig om nuwe metodes te probeer totdat iets werk.
Wat vir baie ouers gedurende die tyd werk is om ‘n harde, rou groente (soos ‘n wortel) vir jou kind te gee om aan te kou. Ouers moet egter seker maak dat hulle die kleuter ten alle tye fyn dophou om te verhoed dat die groente ‘n verstikkingsgevaar word nie.
Hoe om ‘n baba wat tande kry te troos
- Tandringe—Voorsien die baba van ‘n bytring wat van harde plastiek gemaak is.
- Tandvleismasserings—Deur druk op die tandvleis toe te pas kan van die ongemak wat ‘n baba ervaar terwyl hy tande kry, verlig word. Probeer om die tandvleis te masseer met ‘n skoon klam waslap, skoon vinger of skoon klam gaasdoekie.
- Bottels gevul met water—Probeer om ‘n bababottel met water te vul vir jou kind om aan te suig wanneer hy pyn ervaar. Moet egter nie die bottel met sap of melk vul om pyn te verlig nie. Langdurige kontak met suikerhoudende vloeistowwe veroorsaak tandbederf.
- Verkoelde waslappe—’n Koue waslap kan ook tandekrypyn verlig. Laat die baba aan die waslap kou, maar moenie dit vries nie. Voorwerpe wat te koud is, kan die tandvleis en tande beseer.
- Harde/Vaste kosse—As die kind oud genoeg is om vaste kos as deel van sy of haar dieet te hê, kan harde kosse wat veilig is om aan te kou, die ongemak van tandekry verlig.
• Pynmiddels—Oor-die-toonbank pynstillers kan ook help om ‘n baba gemakliker te hou tydens tandekry. Maak egter seker om ‘n pediater te raadpleeg voor die toediening van enige medikasie.
– Rhona Erasmus –
Recent Comments