Ontmoet Jani, die nuwe Pienkvoet-Pret tannie in Stellenbosch

Ek glo heelhartig dat ons lewens nie bestaan uit eindbestemmings nie, maar uit verskillende reise en avonture. My reis het al ‘n paar draaie en kronkels gemaak, tye van aanpassing, groot vreugde, sukses, leer en ook van weer probeer. Die Here se genade en liefde is die goue draadjie wat my reise aanmekaar weef.

My Pienkvoet-Pret reis begin binnekort en my visie is om vreugde te bring, om met insig te inspireer en om mammas en hul kleingoed met ‘n vonkel in die oog te sien leer, ontwikkel en pret hê.

My agtergrond is in die veld van Bedryfsielkunde, spesifiek psigometrie, en ek sien uit daarna om die persoonlikhede om my te sien ontluik en ‘n deel daarin te hê om mammas te ondersteun in die ontwikkeling van hulle klein lyfies se groeiproses … die wegspring blokke van hulle lewensreis.

Paar brokkies inligting oor myself:

  • Ek is ‘n passievolle Christuskind wat glo dat die Here ‘n hoër doel met elkeen se lewe het.
  • Ek is mamma van ‘n wonderlike 3 jarige seuntjie Gideon, en is hierdie jaar 10 jaar getroud met my geliefde wynboer Danie.
  • Ek het ‘n baie sagte plekkie vir diere en my honde en perd is deel van die familie.
  • Ek is ‘n natuur mens wat die lewe op ‘n wingerdplaas in die Boland met humor en onskatbare waardering beleef.
  • Koekbak is my terapie en lees my groot passie .

My hart dans, my siel het vrede en ek sien baie uit daarna om hierdie Pienkvoet-Pret reis saam met julle almal aan te pak. Kom kuier gerus hier by my op die plaas, Pienkvoet-Pret se nuwe tuiste in Stellenbosch.

Liefde

Jani

No Comments Yet.

Leave a comment

Close
Please support the site
By clicking any of these buttons you help our site to get better