Ontmoet die nuwe Pienkvoet-Pret tannie in Roodepoort – Maritza Craill
Vir 12 jaar was ek in die kleuteronderwys en het die laaste 5 jaar die voorreg gehad om voltyds by my 2 dogtertjies te wees. Volgende jaar gaan my jongste ook kleuterskool toe en ek’t besluit om weer te gaan werk. Ek wou my egter nie voltyds verbind nie aangesien ek steeds betrokke wil wees by my kinders se skoolprogram en aktiwiteite.
So plant die Here die saadjie om ‘n mamma- en bababediening te doen en ek’t begin Augustus aansoek gedoen vir ‘n Pienkvoet-pret franchise. Ongelukkig was daar nie op daardie stadium ‘n franchise beskikbaar nie. Einde Augustus bevestig die Here weer vir my dat dit die pad is wat ek moet loop en ek besluit intussen om my eie groepie te begin. My oudste dogtertjie besluit so ewe dat dit die reënboogklas moet wees (min het ek geweet Pienkvoet-Pret gaan September hulle nuwe logo met die reënboog bekendstel). So begin ek toe met voorbereidings vir ‘n klas en lesse en doen bemarking by skole en op Facebook.
Toe kom die boodskap deur van ‘n vriendin wat sê Pienkvoet-pret Roodepoort Franchise is te koop!!!
Hoe nou Here? Ek het gewik en weeg of ek moet aangaan met my eie ding of aansoek doen vir Pienkvoete. Na baie gebed het ek besluit om aansoek te doen en die Here te vertrou vir wat Hy ook al oor my pad wil bring. Die Here het vir my ‘n weg gebaan en so het ek die nuwe Roodepoort Pienkvoet-Pret tannie geword. Ek is baie opgewonde oor my pad vorentoe en sien vreeslik uit na die mammas en kleingoed in wie se lewens ek kan belê en hulle wat my lewe gaan kom verryk.
Recent Comments