Vandag deel Suzelle, die nuwe Pienkvoet-Pret tannie in Montana met mammas 5 perspektiewe om te verander rondom jou kleintjie se ontwikkeling in 2020 …

Daar is ‘n aanhaling wat Pienkvoet-Pret met mammas altyd graag deel; “Moet nooit jou kind met ander vergelyk nie. Popcorn word in dieselfde hitte gesit en pop nooit gelyk nie!”

1ste Mieliepit perspektief – Mieliepitte is almal dieselfde!

Nee, nie een mieliepit is dieselfde nie! Hou op vergelykings maak wat net jou mieliepit gaan benadeel. Mamma, pappa, ouma, oupa en selfs peetouers is daaraan almal skuldig. Ons almal vergelyk ons mieliepitte elke nou en dan of dit nou bewustelik of onbewustelik is.

Bottel of borsbaba? Kleuterskool of tuisbly onderrig? Kruip hulle al? Loop hulle al? Slaap hulle deur? Die druk van ouerskap kan hittig raak en hoe pop jy as ouer? Die skrywer en sielkundige Carl E Pickhardt sê elke kind is anders. Kinders ontwikkel verskillend, het verskillende persoonlikhede en individuele behoeftes. Neem dit altyd in ag en moedig hoofsaaklik ouers, onderwysers en familie aan om dit te begryp.

2de Mieliepit perspektief – Ontwikkeling van my mieliepit is NIE my verantwoordelikheid NIE. 

Nee, ons mieliepitte se ontwikkeling is ons verantwoordelikheid eerste. Nie alleenlik die skool, dagsorg of kleuterskool juffrou s’n nie. Ons mieliepitte spring dalk soms uit die warm pot, maar wie blameer ons dadelik? Die dagmoeder, kleuterskool en soms dalk die Pienkvoet tannie. 

Ons klein mieliepitte se optimale leer en stimulasie vind binne die eerste jare van hul lewens plaas. Daar word trouens gereken deur talle navorsing dat 90% van die brein se ontwikkeling binne die eerste vyf lewensjare plaasvind. 

Uiteraard speel betrokke ouers die grootste rol wanneer dit by hulle mieliepit se ontwikkeling kom. Navorsing het uitgewys dat ’n kind se mylpale beter ontwikkel wanneer daar ’n liefdevolle en bemoedigende ouer in die omgewing is en daarom moet ouers gereeld tyd saam met hulle mieliepitte spandeer.

3de Mieliepit perspektief- Mylpale moet op hierdie dag en datum bereik word!

Jou kind se springmielie mylpale gaan nie almal gelyktydig pop nie. Elke mieliepit sal skiet in sy eie tyd. God se tyd is die perfekte tyd en dit beteken nie altyd dat dit die tyd is wat ons gedagte gehad het nie.

Sommige mieliepitte loop op 10 maande en ander eers weer na ‘n jaar. Mieliepitte verskil van mekaar en daarom sal hulle ontwikkeling nooit op dieselfde tyd pop nie. ‘n Ouer moet eerder ontwikkelingsmylpale as net ‘n riglyn gebruik en nie as ‘n onverbiddelike baken nie. Ons as ouers hoef nie beangs te raak wanneer ons mieliepit ‘n bepaalde mylpaal selfs ‘n paar maande later eers bereik nie, solank hulle ontwikkeling net egter plaasvind, sodat daar nie ‘n uitval is wat deur ‘n professionele moet ondersoek word nie. 

4de Mieliepit perspektief- Ek is nie die beste geurmiddel vir my mieliepit nie!

Ons as ouers is die sout in ons kosbare mieliepitte se lewe! Dr Ansie Gous ‘n kliniese sielkundige met ‘n sterk belangstelling in ouer-baba psigoterapie, en die belangrikheid van die verhouding tussen ma/versorger en baba deel graag die volgende; ‘n Kind se toekomstige ontwikkeling word dikwels binne die eerste ses jaar bepaal. En dit hang feitlik uitsluitlik van die betrokke ouers af. As ouers hul kind laat floreer, kry daardie kind die beste moontlike kans in ’n komplekse wêreld.

Ons as ouers voel soms moedeloos wanneer ons mieliepitte dalk sekere ontwikkelingsmylpale nie bereik volgens die norm daar buite. Ons ervaar emosies van teleurstelling en plaas onnodige blaam op onsself. 

Koester eerder jou kosbare mieliepit in die fase waarin hulle nou is. In ‘n oogwink is hulle in ‘n nuwe fase van hulle lewe en dan hunker ons harte na daardie vorige hartsoomblikke wat reeds verby is. 

5de Mieliepit perspektief- My mieliepit is dieselfde as ek!

Dalk is jou mieliepit ‘n boontjiepit! Die Gautengse kliniese sielkundige, Mari-Luisa van Zyl, sê kinders word met verskillende persoonlike gebore en vereis daarom verkillende maniere van grootmaak van jou as ouer. Jou mieliepit maniere van ouerskap is dalk dit wat jou boontjiepit se ontwikkeling verhinder. 

Neem dalk ‘n oomblik om eers jou sonstraal kind se persoonlikheid te leer ken. ‘n Wonderlike kursus vir elke mamma om te loop is Hettie Brittz se Immergroen ouerskap kursus. Sodra ons meer weet oor ons kind se persoonlikheid, denkwyse en liefdestaal, sal ontwikkeling spontaan plaasvind. 

Ek los elke ouer met die volgende rondom ontwikkeling: “Don’t compare your child to others. There’s no comparison between the sun and the moon. They each SHINE when it’s their time!”

As jy in die Montana area woon en jou kleintjie is tussen die ouderdom van 3 maande en 3 jaar kom speel saam by Pienkvoet-Pret Montana om jou pienkvoet se ontwikkeling ‘n hupstoot te gee, JOU EERSTE LES IS GRATIS! Jy kan ook hierdie skakel volg om jou naaste tak te vind!

Artikel deur
Suzelle Bolleurs
Pienkvoet-Pret Montana
montana@pienkvoetpret.co.za

Due to the national lockdown orders will only be shipped twice a week, every Tuesday and Thursday.