Hoe om hulp te vra

Ander mammas sukkel miskien met die lang nagte, die besige dae, die pediater en kliniek besoeke, die borsvoeding-sessies, maar nie jy nie! Nee jy is 'n spesiale stukkie mens, jy hou al jou balle in die lug! Of ten minste solank as wat daar oë op jou is.

Maar laat in die nag, wannneer dit net jy, jou moeë lyf en jou pienkvoet is, dis dan wanneer jy aan jouself erken dat dit miskien moeiliker is as wat jy aanvanklink gedink het dit gaan wees. Jy begin worstel met die idee om vir jou ma, jou suster, jou vriendin 'n SMS te stuur om te vra of hulle nie net vir die oggend na jou pienkvoet sal kom kyk sodat jy so bietjie slaap kan inhaal nie. Later daai nag, raak dit só erg dat jy selfs oorweeg om jou skoonma vir hulp te vra!

Na so paar uur se baie ligte slaap, omdat jy steeds nie glo dat die asemhalingsplaatjie onder jou baba se matras regtig werk nie, voel jy tog bietjie beter. Vir 'n wyle voel jy selfs weer soos die supermamma wat jy jouself voorgeneem het om te wees. Die getikte SMS bly nét dit, en lê geduldig en wag vir later daardie middag wanneer jy voel asof jou ooglede met supergom aan mekaar vasgeplak is en elke kip van jou oë soos 'n die laaste 100 jaar van die sprokie Slapende Skoonheid is.

Nuusflits! Jou menswees is die superkrag wat jy as mamma mee geseën is. Sonder dit, sal jy nie empatie kan hê wanneer jou dogter se eerste kêrel haar los nie of insig wanneer jou seun daai boelie na 3 maande se verdraagsaamheid op die ou end toe so reg op die neus bygekom het nie. Hoe méér mens jy is hoe méér ma kan jy wees. Vra vir hulp, tik die SMS en stuur dit - gou! En stuur sommer môre dieselfde SMS vir jou skoonma, sy wil graag help!

Bowenal, onthou jy is nie alleen nie en jy is verseker nie swak nie. Jy is super! Tik daai SMS supermamma!

No Comments Yet.

Leave a comment

Close
Please support the site
By clicking any of these buttons you help our site to get better