Ek is ‘n mamma

Deur - 'n Pienkvoet-Pret Mamma

Ek is net soos jy. Ja jy.

Die een met die denimbroek en die los donker hemp. Net soos jy het ek ook nie altyd so aangetrek nie, maar vir nou is donker kleure my beste vriend want dit wys nie die vuil taai handjies wat vroeër aan my afgevee is nie.

Ek is op ander maniere ook soos jy. Ek stoot ook met een hand die swaai en probeer met die ander gou 'n inkopielysie sommer op my foon opstel. Ek het vanoggend ook 'n ekstra lagie onderlaag onder my oë aangesmeer om daai donker kringe toe te maak (alhoewel hul goed by my donker hemp pas).
Ek is dikwels onseker, vol vrae en so bietjie moeg. As jy soos ek is dan weet jy seker wie ek is. Ja ek is 'n mamma. Die feit dat jy weet (of verstaan) is juis wat my behoud is. Die wete dat daar ander net soos ek is, wat ervaar wat ek ervaar. Wat my nie onder kruisverhoor plaas omdat ek vandag braaf genoeg is om te erken dat ek miskien ‘n bietjie ongeduldig met my kind was nie.

Ander wat nes ek soms ook braaf genoeg is om te sê “ek weet nie meer nie”. En een keer per week is dit presies wat ek kry. Veiligheid. Tussen ander mammas wat NES EK is. Of hul nou vinniger as ek hul baba vetjies verloor het en of hul nou al meer gesoute mammas is op nommer 2 of 3, hulle verstaan.

Toe ek die eerste keer Pienkvoet-Pret se advertensie gesien het, het dit gesê “Kom leer speel-speel”. Ek het net nooit besef dat dit nie net my baba was wat sou leer nie. Wat 'n voorreg om vir 90 minute elke week te kan leer en te kan groei. Ek is net soos jy. Ja jy met die denimbroek en die los donker hemp. Volgende keer as jy my in die parkie sien kom praat maar met my. Ek sal luister, ek sal deel en ek sal eerlik wees. Want ek is ’n mamma.

Nee wag, ek is ’n Pienkvoet-Pret mamma.

Wil jy graag speel-speel saam met jou baba leer en sommer ook die kans gebruik om die ongelooflike reis met ander mammas net soos jy te deel? Kontak vandag vir Pienkvoet-Pret om jou GRATIS les te bespreek.

No Comments Yet.

Leave a comment

Close
Please support the site
By clicking any of these buttons you help our site to get better