4 Wenke om magie-tyd maklik te maak

Deur- Anelia Prinsloo, Pienkvoet-Pret Suid-Afrika Algehele Eienaar

Babas het nodig om baie meer tyd op hul magies te lê! Nie net gaan jou baba ’n heel nuwe perspektief op die wêreld kry nie, maar dit hou ook baie voordele in.

Voordele van magietyd:

Dit versterk jou baba se lyfie- wanneer hy sy kop oplig versterk dit die nek-, rug- en skouerspiertjies, sodat hy homself later op sy arms kan opstoot.
Sodra hy hom kan opstoot, word die handjies en vingertjies ook sterker.
Die ontwikkeling van al hierdie spiere is noodsaaklik om te kan vat,rol, kruip, sit, en uiteindelik loop.
Baba ervaar sy liggaam op ‘n heel ander manier op sy magie.
Hy kry ook selfvertroue sodra hy nuwe dinge kan regkry, en probeer dan selfs nog meer dinge beproef.

Wanneer begin baba op sy magie lê?

Begin reeds met jou pasgebore baba, en laat hom op jou bors of op jou opgetrekte bene lê, sodat hy daaraan gewoond kan raak.
Vanaf ongeveer 2 maande kan jy baba meer gereeld op sy magie laat lê sodra sy nekkie nie meer so slap is nie en sy kopbeheer al beter is.

Dis belangrik dat jy altyd teenwoordig moet wees as baba op sy magie lê. Aanvanklik gaan jou baba nie daarvan hou nie en heel moontlik dit luidkeels verkondig! Dit is belangrik om magie-tyd vir hom gemaklik, baie interessant en visueel asook ouditief stimulerend te maak.

Hoe doen ek dit?

Sorg dat die oppervlak sag en warm genoeg is – ’n kombersie werk goed.
Sy arms moet ingevou word onder sy borsie.
Begin deur hom vir kort rukkies op sy magie te sit, en vermeerder die tye soos hy meer gemaklik daarmee raak.
Beweeg kleurvolle handpoppe, prente of balle ongeveer 30cm voor sy gesiggie. Hou ook ratels, klokkies en kleurvolle instrumente voor hom. So trek jy sy aandag dadelik af van sy spiertjies wat skielik so “hard werk” en stimuleer jy terselfdertyd sy oogbewegings en gehoor.Jy kan ook ’n sakkie met water vul en voorwerpe daar insit om baba te interesseer (sien die oulike instruksie video oor hoe om dit te doen).

Soos wat jou baba ontwikkel en langer tye op sy magie lê, sal hy later begin om na die voorwerpe uit te reik, dit te vat, en daarmee te speel. Al kan jou baba net kort-kort vir ’n minuut op sy magie lê is dit meer as genoeg! Elke bietjie help! En kort voor lank is magie-tyd jou baba se gunsteling posisie!

WEN-WENK: Sit twee babas teenoor mekaar op hul magies- hul geniet mekaar se geselskap, geluidjies en vind mekaar gewoonlik heel amusant!

No Comments Yet.

Leave a comment

Close
Please support the site
By clicking any of these buttons you help our site to get better