Ons is só geseënd met die ongelooflike dames wat daagliks die verskeie Pienkvoet-Pret takke bestuur en duisende mammas en babas speel-speel leer. Ellisras is in die tweede kwartaal aan ons oulike franchisee Anita van Staden voorgestel. Ons het die oulike en nuwe aanwins vir Pienkvoet-Pret SA gevra om ons so bietjie van haarself en haar reis na haar nuwe besigheid te vertel. Lees gerus meer.

My Pienkvoet-storie begin eintlik baie jare gelede ... meer as 32 jaar terug...voor selfone, apps óf facebook! Ons is vier kinders en my ma het ons so te sê saam met haar tuis-speelgroepie grootgemaak! Daarna het sy vir 12 jaar lank haar eie volwaardige kleuterskool bedryf. Vakansietye het ons dikwels gaan hand bysit met die kleintjies as die personeel met verlof was. En dan was daar natuurlik die jaareind-konsert voorbereiding - 'n gesing en 'n gerym en 'n gedans - gechoreografeerde kleuter chaos! Ek was mal daaroor! Die saadjie was geplant...

Tog het my lewe daarna 'n paar interessante draaie geloop. Na my BCom studies het ek 'n jaar as deel van C-kruis deur die land getoer (in die kleuterskool span nogal!) en toe nog 'n jaar in Engeland gaan werk. Kort na my terugkeer is ek getroud met Rico en het na Ellisras verhuis waar ek as rekenmeester gewerk het. Maar na ses jaar van maandeindes, voorraadstate, grafieke en begrotings was my tenkie leeg en my vuur geblus. Ek het ewe veel gesmag na kinders van my eie as na 'n werk wat ek kon voel regtig ewigheidswaarde het.....iets wat genuine 'n verskil maak in mense se lewens.
Ek het bedank en begin soek en bid vir iets anders om oor my pad te kom. Min wetend van al die nodige detail wat die Here besig was om in my lewe in te weef, het ek ook in hierdie tyd die eensame berg van infertiliteit geklim...'n sewe jaar hoë berg.

Uiteindelik, in 2013, deur God se genade en in vitro, is daar vir ons 'n pragtige wonderwerk seuntjie gebore, Reuben. As nuwe tuisbly mamma kry ek toevallig in Pta vir die eerste keer te doen met Pienkvoet Pret. Wat 'n fees! Ek was ge-hook aan die wonderlike konsep! Vroeg In 2015 ontmoet ek vir die eerste keer vir Anelia met die oog daarop om in Ellisras ook so 'n franchise te vestig. ... maar in 2016 word daar eers vir ons 'n in vitro sussie bestem en gebore en ons bekers loop oor van dankbaarheid!

Lira is nou 16 maande oud en Reuben al 4. Die tyd is nou ryp vir 'n nuwe avontuur! Ook vir hierdie dorp en sy wonderlike mense. En dis waarom ek die geleentheid om Ellisras PienkvoetPret te open met albei hande én voete aangryp! Dit is die ideale platform om my liefde vir God, musiek en drama, en my brandende passie vir kindertjies uit te leef, en so hopelik 'n bietjie ewigheidswaarde en baie pret en pienk plesier toe te voeg tot die proses!
Mag ek 'n instrument wees in Sy Hand. "Shine Your Light on me Jesus" - dis my gebed.

Kontak gerus vir Anita op ellisras@pienkvoetpret.co.za om jou GRATIS les by haar pragtige tak te bespreek.

No Comments Yet.

Leave a comment

Close
Please support the site
By clicking any of these buttons you help our site to get better