17 Jaar jonk!

Junie maand is Pienkvoet-Pret al 'n volle 17 jaar jonk!

Ek voel nederig dankbaar om hierdie verjaarsdag saam met al ons lojale mammas, pappas, babas en franchisees te kan vier.

Ek dank die Here vir baie seën en vreugdes die laaste 17 jaar en vir die voorreg om dit met julle landswyd te kan deel elke dag.

Dis wonderlik om te kan weet dat dat daar tans weekliks 1304 pienkvoetjies aan ons program deelneem! Dankie aan elke mamma, pappa, nanny, ouma of oupa wat so getrou week na week tyd maak om jou kind klas toe te neem. Dankie dat jul dit wat jul by die klasse leer tuis gaan toepas en herhaal.

Dankie dat julle die beste bemarkers van Pienkvoet-Pret is! Deur “word of mouth” groei ons maandeliks. Julle lojaliteit word waardeer.

Ons strewe daarna om weekliks vir jul die beste waarde vir jul geld te gee. Met 28 puik franchisees in die Pienkvoet-Pret familie is dit maklik. Ons leef daagliks ons passie uit! Baie tyd, moeite en liefde gaan in die voorbereiding van elke les in. Maar die beloning is baie groot as 'n baba of peuter 'n nuwe mylpaal bereik of ietsie kleins regkry, soos om ‘n pennetjie uit ‘n polistirienbakkie te kan trek. Daardie eerste omrol, kruip, loop of rol in 'n Pienkvoet-Pret klas sal jou altyd bybly.

Franchisees word met groot sorg gekeur en opgelei. Na 17 jaar het ons tans franchises in Montana, Pretoria-Noord, Lynnwood, Brooklyn, Garsfontein, Faerie Glen, Mooikloof, Silver Lakes, Moot, Centurion, die Oosrand, Midstream, Roodepoort, Alberton, Randburg, Stellenbosch, Polokwane,  Nelspruit, Paarl, Durbanville, Middelburg, Witbank, Bloemfontein, Parys, Potchefstroom, Ellisras, Vaaldriehoek en Bethlehem.

Beste vriendinne word daagliks by ons klasse gemaak. Mense wat jou wel en weë van moederskap kan deel. Ons lag saam, huil saam en deel in mekaar se grootste vreugdes maar ook seerste seer.

Niks kan kosbare tyd saam met jou kleinding vervang nie. Geld kan nie tyd terugdraai nie. Geniet elke oomblik saam met jou pienkvoet. Geniet jou Pienkvoet-Pret klas waar jul al spelende nader aan mekaar kan kom.

Ons sien uit om nog 'n lang pad saam met julle te speel en leer!

17 jaar van nou af skryf jou baba dalk al matriek of is hy al op universiteit. Geniet vandag saam met jou kind!

Dankie dat JY deel is van Pienkvoet-Pret en 17 jaar saam met ons vier!

No Comments Yet.

Leave a comment

Close
Please support the site
By clicking any of these buttons you help our site to get better